Pedro Vorster – Binne ’n uur later van die Oliver Tambo Internasionale Lughawe in Suid-Afrika, duik die 40 sitplek-straler onder die lae wolke in om op Nelspruit Mpumalanga-lughawe te land. Die Krugerwildtuin skuur hier skouers met Mosambiek en Nelspruit, ook genoem Mbombela, lê aan die suidelike onderpunt van die wêreldbekende wildreservaat.
Op Johannesburg, ofte wel O.R. Tambo-lughawe, moet in transito gewag word vir die aansluitingsvlug na Nelspruit. Om te vlieg van Windhoek tot by die Mpumalanga-lughawe is deesdae ’n gerieflike, maar vreemde oefening met onvoorspelbare prysskommelings. Van die eerste kwotasie tot die finale e-kaartjie ry wipplank tussen drie pryse en met elke navraag verskil die kostes met oor die N$2 000!
Op O.R. Tambo is genoeg tyd om te kyk na ooreenkomste en verskille tussen ons en hulle. ’n Pa met drie tienerdogters loop verby. Hy orden sy kroos ernstig in die bespotte Gauteng-Afrikaans. Geklee in somersdrag: plakkies, kortbroek en T-hemp. Niks vreemd. Ons loop ook so rond.
Maar met die eerste oogopslag, toe die vliegtuig deur die vol wolke by Nelspruit daal, blink die plaasdamme en oral is daar tekens van water. In netjiese regiment staan rye advokado-, piesang-, koffie-, en bloubessieplantasies en lap die deinende groen landskap stuk vir stuk aanmekaar. Oor groot gebiede lê paalreguit denneboomwoude donker skadu’s neer langs graskoppies waaruit rotsplate elke nou en dan deurbreek.
Nelspruit lê meer suid van die Steenbokskeerkring as Rehoboth, maar al is die Basterdorp nader aan die ekwator, staan sy harde veld in kontras met die Laeveld-habitat. Ja, die Laeveld-wêreld is nat en vrugbaar. Hier groei alles hierbo genoem en selfs nog meer as wat jy verwag in die subtropiese klimaat. Die Krokodilrivier wat buite die stad verenig met die kleiner Nelspruitrivier, is nog nêrens in sig nie. Oor sy lengte kry die rivier baie name en vloei Suid-Afrika binne van Komatipoort op die Mosambiekse grens.
Behalwe die ooglopende lopende riviere, wat verskil nog? Baie, tog ook nie. Skielik staan daar in Nelspruit se botaniese tuin ’n paar lelies soos dié van Sanniespan, Maltahöhe, gekoester in die skadu van ’n inheemse Laeveld-boom.
AVONTUUR-ARENA VAN GRASKOP
Die Nelspruit-bevolking van sowat 110 000, is hoofsaaklik Christene. ’n Plaaslike pastoor reken daar is sowat 40 kerke en splinterdenominasies. Een daarvan wroeg nou nog oor die gevaarlike invloed van popmusiek op die jeug. Kletsrym is nog nie eens op hul agenda nie.
Sowat 110 km noord van Nelspruit oorlewe Graskop. Die effens verslete dorpie ly aan post-onafhanklikheidstres. Verbasend is die omgewing se paaie meerendeels slaggatvry.
By die Graskop Gorge Lift Co ruk die skielike duiselwekkende oostelike platorand jou tot stilstand. Die dramatiese uitsig is elke goeie agorafobiër se nagmerrie.
Voorheen was daar seker meer gras op die kop en water in die waterval. Vandag weerklink die gille van adrenalienverslaafdes teen die kranse. Van die waterval is daar ’n vryval wat die brawes, so word gesê, in drie sekondes versnel tot 140 km/h in ’n swaaiende boog. Een man se moed het hom begewe en hy het in vrees aanhoudend bly skree soos ’n honger kransvoël. Na hom het ’n jong vrou die vaartversnelling braaf trotseer en oorleef.
Met twee 120 m-foefieslaaidlyne (zip-line) heen en weer oor die ravyn van meer as 70 m diep kry avontuurlustiges oorgenoeg stimulasie om hulle van hul vreesloosheidskoors te genees.
Vir die banges is teenaan die kranse ’n glashysbak wat rustig 51 m daal deur prehistoriese geografiese lae tot op die bodem van die rivier. Hier op bedompige grond zero neem ’n goeie 600 m-plankwandelpad stappers kruis en dwars oor die rivier. Allerhande rare dinosourusse kon glo hier eens op ’n tyd voed op reusesampioene.
In vergelyking is ons Visrivier-afgronde nog redelik onaangeraak en kom goed klaar sonder sulke kommersiële “ontwikkeling”, of sê maar foefies.
GEWILDHEID BEDERF WILDPARK
Die Kruger Nasionale Park word druk besoek en akkommodasie is byna onbekombaar sonder ’n bespreking.
Dit, ten spyte van 12 hoofruskampe, boskampe en privaat kampe. Skukuza is die grootste kamp en spog met die wildste gholfbaan in Suid-Afrika, of liewer met wilde diere op die setperk.
Die norse houding van die kamppersoneel is tipies van lakse mense wat oorverseker is van ’n inkomste. Waarde vir geld is ’n totaal abstrakte konsep en hulle kan gerus kom kers opsteek by ons vriendelike kampmense.
Gou sien ons ’n horde impalas. Toe nog. Toe weer en meer. Die mooi bok is oorvolop en verskyn in alle snitte ook op mens en roofdier se spyskaart. ’n Trop buffels van maklik oor die 40 staan skielik die pad vol. Daar is soveel olifante te sien, besoekers is blasé en noem hulle laaste. Ons sien twee keer leeus so 100 m ver weg. ’n Verkyker is noodsaaklik of ’n kamera met lense so groot soos die eerste stadium van ’n maanvuurpyl.
’n Storie skuil in die plekname van die omgewing en Kiepersol, Blyderivier, Lydensburg, Pelgrimsrus, God’s Window, Burke’s Potholes, Long Tom Pass praat uit die verlede met jou.
Dan besef jy, daar is meer ooreenkomste tussen Namibiërs en Laevelders as bloot jukskei en trekkersbloed, maar omdat dit so naby aan die oppervlakte lê, gaan dit, soos die spoke van gister, ongesiens verby.